Jy lees dit nie, jy voel dit

Eerste gewaarwording van liefde

Kenners reken dat kinders se eerste gewaarwording van liefde begin wanneer hulle nog babas is. Hulle dink nie spesifiek oor ‘liefde’ nie, maar voel warm, veilig, geborge en gelukkig in hul ouers, grootouers en ander versorgers se teenwoordigheid. Wanneer hierdie positiewe gevoelens en gesprek gekoppel word aan frases en woordjies soos “my liefie,” en “ek is lief vir jou,” wat ook gepaard gaan met drukkies en vertroeteling, vorm dit begrip by die kleuter dat liefde te doen het met die aangename gevoelens wat hulle ervaar saam met mense.

Hulle begin dan ook verstaan dat hoe om ander geliefd te laat voel deur liefdevol op te tree en begin besef dat liefde tussen mense uitgeruil word. Vandaar begin mens spontane drukkies en liefdesverklarings kry – wat ‘n vreugde! – en mens sien hoe kinders liefde begin betoon aan maatjies, troeteldiere en enigiets wat aanspraak maak op ’n mens se sorg en deernis.

As liefde nie teenwoordig is in hulle eerste jare nie, ervaar kindertjies vrees, angs, gevoelens van verwerping en onveiligheid.

Hierdie eerste ervaringe en begrip van liefde, of gebrek daaraan, lê die fondasie vir kinders se latere begrip van liefde, en veral wanneer hulle as tieners oor liefde begin dink. Mense het uiteenlopende opvattings oor liefde en dit is deur gesprekke en goeie voorbeelde dat ons ‘n blywende voorbeeld op ons kinders laat.

Lees vir emosionele intelligensie

Een van die grootste voordele van saamlees, is dat jou kind geborge, veilig en vertroetel voel terwyl julle lees. Gewoonlik sit die kleinding op mamma of pappa se skoot en daar is aanraking en interaksie met mekaar. Maar stories en boeke kan ook gebruik word om kinders van emosies soos liefde, geluk, vrees en hartseer te leer. Sodoende ontwikkel hulle ‘n gesonde emosionele woordeskat en emosionele intelligensie.