As ‘n ouer van ‘n sukkelende lesertjie, weet jy lees kan ‘n baie frustrerende ervaring vir beide jou en jou kind wees. En alhoewel jy goed besef hoe belangrik dit is om van jongs af ‘n sterk fondament in lees vas te lê, weet jy dalk nie wat om te doen om te help nie.
Hoewel daar verskeie redes is waarom sommige kinders sukkel om te lees, terwyl ander dit makliker onder die knie kry, is hierdie idees geskik vir lesers van alle vlakke. Dit is ook nooit te vroeg om hiermee te begin nie en klein kindertjies sal ‘n groot voorsprong ontwikkel as jy sommer klein (so van vier en ouer) begin.
Wat ouers kan doen om kinders te help
Een van die belangrikste dinge wat ‘n ouer kan doen is om vir hulle kinders te lees. (Dit kan jy reeds van geboorte af doen, en moet beslis nie ophou as hulle al self kan lees nie!)
Sit rustig en spandeer saam tyd om na die prentjies te kyk. Vra jou kind wat hy of sy dink in die storie gaan gebeur nog voor jy begin lees.
Om hul leesbegrip te verbeter, vra jou kind baie vrae terwyl jy die storie lees soos, “Hoe dink jy voel die seuntjie nou? Kyk na sy gesig. Lyk hy hartseer of gelukkig?” Dit kan help dat hulle sal besef dat die prentjies dikwels leidrade gee oor wat in die strorie aan die gang is. Die tegniek is krities om jong lesers te help om onbekende woorde te ontsyfer.
As julle winkel toe gaan, wys woorde uit aan jou kind. Kies ‘n karton melk en vra, “Watter woord dink jy sê melk?”
Gee jou kind tydskrifte en laat hom of haar woorde soos “en” en “die” omkring elke keer as hulle op ‘n bladsy verskyn. Vir kleiner kindertjies kan jy vra om spesifieke letters te soek.
Speel hierdie prettige speletjie wat foneme (individuele klanke in woorde) manipuleer, oral waar julle in die motor ry of as julle êrens moet wag.